|
Terwyl ou Jurie Jig met 'n baie lang gesig kyk na sy groottoon wat so klop wonder hy of hy al ooit 'n seerder ding in sy lewe gehad het. Miskien nierstene of kraam, maar nou kan hy net dink aan hierdie rooi groottoon, of is dit miskien 'n groot rooi toon? So sit hy nou en bedink sy sondes. Was dit die rooiwyn, of die biltong en whiskey saam met die rugby of die lekker steak en chips na die rugby wat hom so versuur? (Dit is mos nou hoeka glo 'n klomp suur wat daar saampak.) So kreunend wens hy, hy het eerder krukke gehad, of nee nog beter 'n ambulans, toe sukkel hy na die pers huis toe. Hy het gehoor van dr Sarel se 3-in-1 mix inspuiting wat werklik vir AVBOB kan keer - want verseker kan mens dooi van so 'n pyn.
Die dokter glimlag baie simpatiek en sê toe hy spuit eers en dan verduidelik hy, want hierdie is 'n siekte wat mens moet verstaan.
Die 3-in-1 in die boud brand toe nie eers nie en nadat 'n wattebolletjie opgesit is begin die preek. Eers gaan dit oor hoe proteine verteer word en is die afvalproduk se naam uriensuur. Hierdie word deur die niere in die uriene uitgeskei (dankie tog eerder die gout in my toon). Sommige mense produseer te veel uriensuur en ander se niere is te stadig om dit uit te skei-- maar in albei gevalle hoop die suur mos nou op in die bloed en kristalliseer dan uit in 'n gewrig. Blykbaar tas dit ons oorgewig manne meer aan as die vroue. Alle proteine (vleis en biltong, ag damn!) kan dit veroorsaak. Alkohol jaag dit aan soos net die Suid-Ooster kan.
Maaaaaar, toe sê hy nou verder dat diëet speel net 'n 25% rol. Dit is glo dehidrasie en ligte beserings wat die regte oorsake is.
In die somer sweet ek te veel en in die winter drink ek te min water en albei kere is daar te min uriene om van die uriensuur deur die niere ontslae te raak. Nou kristalliseer die goed weer uit en slaat die gout my vir 'n ses.
Bloedtoetse is ook nie akkuraat nie want dit meet net die uriensuur in die bloed en nie in die spiere, lewer, niere en ander sagte weefsel nie.
Dok vertel toe die mooi storie van die watertenk. Sodra daar te veel uriensuur in die liggaam is "loop die tenk oor" - en dan kry ek my gout-aanval. As die tenk amper vol is, dan sal 'n rugby game en eskapades die tenk laat oorloop. As die Blou Bulle verloor het, is die ontwatering dan glo nog vinniger agv die trane wat mens dan ook nog stort. OK, so dan is die geheim om die tenk leeg te kry, maar waar is die outlet?
Maklik--hoe meer water ek drink hoe meer spoel my niere die uriensuur uit. As ek Citrosoda ook nog drink, dan lê die niere 'n sweep in. Die goutpille wat ek ELKE dag moet drink keer eerstens die oormatige produksie van uriensuur en tweedens jaag dit weer die niere om meer uriensuur uit skei. Dus word my tenk leër by die dag. Maar hoe lank vat dit? Ten minste ses maande sê die goeie dokter.
En wat moet ek nog doen behalwe water drink? Minder vleis eet, stadig op die alkohol (1 glas water saam met elke dop), gewig verloor en fisiese oefening doen(klink my daar is my hoë cholesterol en bierpensie ook in hul moer). O, OK--en blykbaar nog water drink.
Klink my dit is makliker om te kraam………………………..
Meer oor jig
|
|